Stelsel Kan Dreineer en Ondergronds Besproei

Twee broers van Klerksdorp het die waarde van beheerde dreinering in hul saaiboerdery besef en toe die boerdery vaarwel gesê om heeltyds ander boere se lande met hul water- en kragslim stelsel te dreineer óf te besproei.

Deurnat grond hoef nie meer ’n probleem te wees nie. ’n Amerikaanse stelsel wat ontwerp is om oortollige water uit nat grond te dreineer én aanvullend kan besproei, gebruik net ’n derde van die water en krag wat ’n spilpunt vereis.

Dié stelsel is veral bedoel vir grond met ’n keerlaag waar die water ondergronds opdam en dus só nat word dat gewasse versuip wanneer dit baie reën. Die gedreineerde water kan in ’n dam opgevang en dan weer na die land terug gepomp word of water kan uit ’n rivier of ander waterbron na die land gepomp en ondergronds toegedien word. Dit word beheerde dreinering genoem.

Mnre. Stephan en Jaro Geldenhuys het die waarde van dreinering deeglik besef nadat hulle hul saailande gedreineer het op die plaas wat hulle eers saam met hul pa, Manus, by Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal bedryf het. Hulle het ’n reuse-werktuig gekoop waarmee die dreineringspype gelê word. Landbouweekblad het op 2 September 2011 daaroor geskryf. 

Later het hulle die boerdery gelos en heeltyds begin om ander boere se lande te dreineer. Hul onderneming het na Klerksdorp, wat meer sentraal is, verskuif.

Die broers het toe op die Amerikaanse stelsel afgekom en ’n kursus by die Universiteit van Ohio se Overholt-skool vir dreinering bygewoon.

 

Stelsel se ontwerp

Eers doen hulle ’n volledige topografiese opmeting van ’n land met Real-Time GPS (’n baie akkurate meting deur middel van satelliettegnologie wat akkurater as gewone GPS is) om te bepaal watter kant toe die grond val. Daarna grawe hulle profielgate om die doeltreffende worteldiepte en keerlaag se ligging te bepaal. Die volgende stap is om ’n versadigde hidrouliese geleidingstoets te doen wat bepaal hoe vinnig water ondergronds deur die grond beweeg. Dit bepaal die posisie van die dreineringspype. 

Met al die inligting byderhand kan die broers ’n volledige stelsel ontwerp en die koste daarvan bepaal. 

In hierdie stadium is die enigste verskil tussen die stelsel vir beheerde dreinering en gewone dreinering dat die laterale dreineringspype (die pype wat die gedreineerde water na die hooflyn voer) nader aan mekaar ingesit word as met gewone dreinering.

’n Dreineringstelsel bestaan dus uit subhooflyne wat teen die helling af na die hooflyn gelê word, wat weer lei tot aan die kant van die land waar die gedreineerde water in ’n dam uitvloei. Uit die subhooflyne is laterale pype wat die eintlike dreinering doen. 

 

Beheer die watertafel

Vir beheerde dreinering volg ’n tweede fase van beplanning. Die broers bring een beheerstruktuur of -kas vir elke 1 m wat die grond val, in die subhooflyne aan. Die struktuur steek bo die grond uit en is aan die kant van die land, nie binne-in die land waar dit bewerking kan bemoeilik nie. Die subhooflynpyp gaan tot in die een sy aan die onderkant in en hervat weer aan die teenoorgestelde kant. Die gedreineerde water vloei dus tot in die beheerkas. In die struktuur is gleuwe aan die teenoorgestelde sye van die in- en uitvloeipunte. Deur plastiekskywe (stoppe) in die gleuwe te plaas, kan ’n boer bepaal hoe hoog die water in die beheerkas aan die een kant opdam voordat dit bo-oor die hoogste stop vloei en dan verder in die subhooflyn af.

Die diepte van die water in die beheerkas bepaal hoe diep of vlak die watertafel in die land is, want as die water in die subhooflyne en laterale pype opdam, vind geen verdere dreinering plaas nie.

Boere gebruik dan inligting oor die normale worteldiepte van gewasse in bepaalde groeistadiums om te bepaal wanneer hulle besproeiing moet verhoog of verlaag. Só beheer die boer die diepte van die watertafel. 

Wanneer die gewas se wortelstelsel nog vlak is, moet die watertafel net onder die wortels wees, sodat dit daarheen kan groei. Soos die wortelstelsel dieper raak, word die stoppe in die beheerkaste uitgehaal om te keer dat die plante tot binne-in die watertafel groei, anders ontwikkel die wortelstelsel nie verder nie of die gewas versuip. 

“Aan die einde van die gewas se groeityd haal die boer al die stoppe uit sodat die grond tot op ’n dieper vlak kan dreineer. Die dreineringstelsel spoel dan leeg en die grond word droog sodat die boer sy oes kan insamel,” sê Stephan.

So ’n beheerstelsel kan in ’n bestaande dreineringstelsel aangebring word deur ekstra pype en beheerkaste te installeer.

 

Pomp

Om die dreineringstelsel vir aanvullende besproeiing te gebruik, word ’n laedrukpomp aan die uitvloeikant van die hooflyn aangebring. ’n Pomp van 12 kW is voldoende vir ’n land van 45 ha. (Dis heelwat kleiner as die 40 kW-pomp wat ’n 45 ha-spilpunt benodig.)

Dit word gebruik wanneer die grond droog word en die gewas ’n watertekort kan ontwikkel. ’n Boer kan dan ondergronds besproei deur water uit sy dam of rivier in die dreineringstelsel te pomp. Die water vloei met die hooflyn op tot in die subhooflyne en laterale pype. 

Hy kan die diepte van die watertafel bepaal deur die stoppe minder of meer te maak sodat die watervlak tot by die wortels opdam. As dit weer reën, skakel hy die pomp af en hy kan weer met dreinering begin as dit nodig is.

’n Outomatiese stelsel is ook beskikbaar. Die pomp skakel outomaties aan en af om die watertafel op die vasgestelde hoogte te hou en die hoeveelheid water wat toegedien word, maklik te beheer. 

Om seker te maak die stelsel werk, gebruik ’n grondboor om ’n gat in die grond tot onder die wortelsone te boor. Plaas ’n geperforeerde PVC-pyp vertikaal daarin en laat die punt bo uitsteek. Plaas iets in die pyp wat kan dryf. Dié drywende voorwerp sal wys hoe diep die watervlak is. “Jy hoef net elke derde dag te gaan kyk,” sê Jaro.

Omdat soute saam met die water uit die grond dreineer, word verbrakking beter beheer, maar die boer moet die watergehalte dophou wanneer dreineringswater hergebruik word en soute neutraliseer as dit te veel raak voordat hy dit weer vir aanvullende besproeiing gebruik.

 

Koste en voordele

Die stelsel kos wel meer as ’n spilpunt en ’n dreineringstelsel saam, maar spaar baie water en elektrisiteit. Die stelsel gebruik ’n derde minder water as ’n spilpunt. Vir ’n spilpunt is die pompkoste sowat R4 500 per seisoen, maar die beheerstelsel gebruik minder as R1 000 se elektrisiteit. Dit het ook geen onderhoudskoste nie. 

’n Belangrike voordeel is dat daar nie uitvalstukke op ’n vierkantige land is soos wanneer dit met ’n spilpunt besproei word nie. Die bewerkbare grond word dus doeltreffender benut.

Die totale koste van die dreinering- en beheerde besproeiingstelsel wissel van land tot land omdat toestande baie van mekaar kan verskil. Gemiddeld gebruik hulle sowat 500 m pyp per hektaar om elke 20 m ’n pyp te installeer. 

Die laterale lyne kos ongeveer R54/m. Moederlyne (subhooflyne en hooflyne) kos R92/m, maar dikker pype is duurder. Die beheerkaste kos R4 500 elk (BTW uitgesluit). ’n Algemene reël is dus sowat R23 000 tot R25 000 per hektaar. 

 

Pyplêer

Voordat die pype gelê word, word die land met GPS op ’n vierwielmotorfiets opgemeet. 

Die werktuig waarmee die broers die pype lê, is baie groot en word deur ’n groot trekker getrek. 

Dit lyk soos ’n groot grondbreker en die pype word deur ’n gleuf in die “toon” ondergronds gelê.

Dit is met GPS toegerus en volg dus die vooraf uitgewerkte beplanning vir die dreineringspype uiters akkuraat. Dit beheer ook die diepte volgens die helling van die land sodat die pype altyd afdraand loop.

Die broers het ook ’n kommunikasie-stelsel waarmee hulle die GPS-besonderhede regstreeks van ’n skootrekenaar na die GPS op die pyplêer stuur. Net so kan hulle voortdurend vanuit die kantoor die gehalte van installasie dophou en ook hoe ver die werk op die land gevorder het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *