Opbrengste Kry Tegnologie-Hupstoot

Agri Drainage van Klerksdorp in Noordwes se kundigheid en suksesse met betrekking tot ondergrondse dreineringstelsels en verwante tegnologie word bevestig deur indrukwekkende statistieke oor hoër opbrengste en oesgehalte. Gemiddelde opbrengsverhogings van 34% op mielies en 42% op lusern is nie sommer net wilde aansprake nie.

volgens Stephan Geldenhuys, ’n direkteur van Agri Drainage, span hulle revolusionêre tegnologie in van die Ohio State University in Amerika, wat al meer as ’n eeu lank navorsing oor ondergrondse dreinering doen. Personeel van Agri Drainage ontvang gereeld opleiding in die jongste tegnologie by dié instelling.

Beheerde dreinering

maak dit vir die boer moontlik om sy grond se watertafel sodanig te bestuur dat dit presies en in ooreenstemming met die beskikbare reën op die verlangde vlakke gehou kan word. Dit word gedoen deur ’n kombinasie van beheerkaste en ondergrondse kleppe. “Versuiptoestande binne die wortelsone weens te veel reën kan byvoorbeeld uitgeskakel word deur die oortollige water wat eenvoudig bo-oor die sluis in die beheerkaste loop en gedreineer word,” verduidelik Geldenhuys. “Die stelsel gee die boer dus volle beheer oor die watertafel in sy grond en skakel die moontlikheid uit van versuiptoestande wanneer te veel reën op ’n hoë watertafel binne die seisoen val – sonder om te veel water weg te dreineer wat vir die oes benut kon word.”   

Die stelsel is veral geskik vir watertafel-gronde in die Bothaville- en Hoopstad-omgewings.

Ondergrondse besproeing

Dié stelsel pomp water terug in die beheerkaste sodat die watertafel net onder die wortelsone gestabiliseer word. Dit voorsien die plant van water deur die kapillêre beweging van die water. Geldenhuys sê die groot voordeel van dié stelsel is dat dit slegs ’n fraksie van ie pompkoste van oorhoofse besproeiing het, omdat daar nie teen druk deur sproeiers gepomp hoef te word nie en ok omdat daar geen verdere onderhoudskoste (behalwe die pomp self) is nie.

“Nog ’n voordeel is dat dié soort besproei ing ’n baie laer waterbehoefte het omdat daar geen verliese weens verdamping is nie. Die stelsel kan boonop op enige landvorm aangebring word en daar is nie uitvalstukke nie.”

Dit is ook baie goedkoop en maklik om die stelsel te outomatiseer en skeduleer, aangesien die watertafel op ’n vasgestelde vlak gehou word en slegs volgens behoefte aangevul word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *