Watertafels Nou Ten Volle Beheer

Dit is vir Agri Drainage, ’n Klerksdorpse maatskappy wat in ondergrondse dreineringstelsels en verwante tegnologie spesialiseer, belangrik om aan die voorpunt van die jongste internasionale tegnologie te bly.

Agri Drainage het sedert sy stigting presies drie jaar gelede baanbrekerswerk in die SA landboumark gedoen. Sy jongste toevoegings van beheerde dreinering (oftewel ’n beheerstelsel vir watertafels) en ondergrondse besproeiing bied aan boere ’n diens waarvan sommiges nog nie eens gehoor het nie.

Om dié revolusionêre tegnologie te bemeester, het twee van Agri Drainage se kundiges onlangs ’n intensiewe weeklange kursus van die Ohio State University in Amerika bygewoon. “Dié universiteit se afdeling vir landbouingenieurswese doen al meer as 100 jaar navorsing op ondergrondse dreinering saam met die Amerikaanse departement van landbou (Usda),” sê Stephan Geldenhuys, ’n direkteur van Agri Drainage. “’n Groot deel van die kursus het op die genoemde twee relatief nuwe dreineringstelsels gefokus.”

Volgens Geldenhuys is beheerde dreinering meer geskik vir watertafelgronde, soos wat in die omgewings van Bothaville en Hoopstad gevind word. “Die stelsel laat die boer toe om sy grond se watertafel te bestuur en gevolglik op die presiese vlak te hou wat verlang word.”
Dit is moontlik deur ’n dreineringstelsel op byvoorbeeld 1,2 meter te installeer. “Daar word dan ’n kombinasie van beheerkaste en ondergrondse kleppe op die stelsel aangebring wat die beheer moontlik maak.”

Die watertafel kan gedurende die seisoen op verskillende vlakke beheer word, sê Geldenhuys. “So kan die watertafel se beheerstelsel byvoorbeeld tot heel bo gelig word ná die oes, sodat reënwater vir die groeityd gestoor kan word. Ná planttyd kan die watertafel stelselmatig verlaag word namate die plant groei, om wortelontwikkeling te bevorder.” ’n Té hoë watertafel in dié tyd benadeel die plant: dit belemmer wortelontwikkeling en veroorsaak dus dat die plant later in die seisoen swak droogteweerstand het. “Wat ondergrondse besproeiing betref, verskil die tegniese ontwerp van die
stelsel heelwat van beheerde dreinering,” verduidelik Geldenhuys.

“Hier word die water teruggepomp in die beheerkaste sodat die watertafel gestabiliseer word net onder die wortelsone. Die plant word sodoende deur die kapillêre beweging van die water van die nodige vog voorsien.” Die stelsel bied verskeie voordele, insluitend dat dit slegs ’n gedeelte van die pompkoste van oorhoofse besproeiing het en die waterbehoefte laer is omdat daar geen verliese weens verdamping is nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *