Verhoog Wins Deur Dreinering

Vir Agri Drainage, ’n Klerksdorpse maatskappy wat in die installering van ondergrondse dreineringstelsels spesialiseer, is dit belangrik dat boerekliënte sy aansprake van hoër landbouwins bevestig.

Volgens oorsese syfers kan die oesopbrengste van gewasse soos mielies, koring, sojabone en lusern met minstens 29% verhoog word deur doeltreffende dreinering. Verhogings van 70% is al aangeteken.

“Al ons kliënte het ons diens weer aangevra in die komende winter,” sê Stephan Geldenhuys, een van die maatskappy se direkteure. “Sommige is nou reeds die derde keer in ons drie bestaansjare betrokke.”

Van die talle suksesverhale wat Agri Drainage reeds gehad het, sluit in:

By een van Agri Drainage se kliënte in ie Bethal-omgewing (Mpumalanga) is ’n verhoging van sowat 30% op droëland-sojabone ervaar.

• ’n Tweede boer, ook van Bethal, haal nou op droëland – waar hy voorheen glad nie kon plant nie omdat dit te nat was – opbrengste af wat met sy goeie ongedreineerde grond vergelyk.
• By Villiers in die Oos-Vrystaat is daar vanjaar op een plaas verhogings van 30% op aartappels by gedreineerde spilpunte. Volgens die eienaar kon ’n paar tydige aanpassings aan byvoorbeeld die spasiëring van pype ’n verhoging van tot 100% tot gevolg gehad het. “Dit is maar enkele voorbeelde,” verseker Geldenhuys. “Die terugvoer van kliënte  ná ’n nat voorseisoen in die ooste van die land is baie positief en op baie plekke is die opbrengs 50% tot 100% beter op die gedreineerde dele. In die meeste gevalle sou alles heeltemal versuip het.”

Agri Drainage het sedert sy stigting in Mei 2011 baie werk in veral die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Noord-Kaap gedoen. “Dit groei egter ook nou in die Wes-Kaap.”

Doeltreffende dreinering is die boer se bondgenoot om sy opbrengste te verhoog. Van die vernaamste voordele daarvan sluit onder meer in:

• Versuiptoestande word verwyder deur die verlaging van die watertafel.
• Dieper en gevolglik doeltreffender wortelstelsels word verkry, wat sterker plantvestiging en ook droogteweerstand verseker.
• Die opname van belangrike voedingstowwe word aangehelp, die grond is beter deurlug en sorg vir gesonder mikrobes.

Vir Agri Drainage is dit ook belangrik dat sy personeel aan die voorpunt van die jongste tegnologie bly. “Twee van ons mense gaan juis weer in Maart na die Overholt Drainage School in Ohio, Amerika, vir ’n vyfdagkursus, waar hulle aan die jongste tegnologie en metodes blootgestel sal word.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *