Water-Oplossing Verhoog Landbouwins

IN Suid-Afrika is in 1978 laas omvattende en gesaghebbende navorsing oor dreinering van water in landbougrond en die gepaardgaande voordele gedoen. Dit het Agri Drainage van Klerksdorp in Noordwes, ’n SA maatskappy wat in die winsgewende bestuur van water spesialiseer, egter nie daarvan weerhou om hom as toonaangewend op dié gebied te vestig nie.

“Agri Drainage bied aan boere ’n eenstopdiens vir al hul waterbehoeftes,” sê Stephan Geldenhuys, ’n direkteur van die maatskappy. “Kartering van die betrokke grond, dreineringsontwerpe vir ondergrondse en oppervlakdreinering en die inspan van satelliettegnologie om die grondhelling optimaal te kry, is alles deel van die pakket.”

Volgens Geldenhuys kan boere die koste van installering van ondergrondse dreinering met tot 80% verlaag deur Agri Drainage se stelsel. “Ons benut die jongste tegnologie in die ontwerp en installering van dreineringstelsels. Die ‘tile plow’-metode wat ons gebruik het sy oorsprong in Amerika, waar dit die dreineringsmark oorheers. Dit is eers behoorlik vir SA toestande getoets voordat dit hier met groot sukses begin gebruik is.”

Amerika en Nederland is toonaangewend wat dreineringstegnologie betref, sê Geldenhuys. “Byna elke universiteit in Amerika het ’n afsonderlike departement wat dreinering behoorlik navors en tegnologie ontwikkel. Betroubare statistieke oor honderde VSA-persele bevestig dat oesopbrengste en gehalte van mielies, sojabone, koring en lusern met van 29% tot selfs meer as 70% verhoog kan word.”

Agri Drainage kan nie voorbly nie: sedert sy stigting in die winter van 2011 het die maatskappy reeds meer as 600 000 meter dreinering vir verskillende gewasse en grondtipes in Suid-Afrika geïnstalleer. Die meeste dreineringswerk is in die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal gedoen en in die Oos-Kaap neem die vraag tans aansienlik toe. 

Maar wat is die voordele van doeltreffende dreinering?

“Dit verwyder versuiptoestande deurdat die watertafel verlaag word; dit verseker dieper en dus doeltreffender wortelstelsels vir sterker plantvestiging en dus droogte-weerstand wanneer dit saak maak en dit verhoog uiteraard die opname van belangrike voedingstowwe,” verduidelik Geldenhuys.

Ander vanselfsprekende voordele is onder meer beter deurlugting van die grond, groter toeganklikheid van stikstof, gesonder mikrobes en die uitwas van soute in verbrakte grond. “Dit is boonop ’n eenmalige uitgawe waarby die boer vir die res van sy lewe kan baat.”

Agri Drainage se kundige personeel bly ook aan die voorpunt van die jongste tegnologie deur jaarliks opleiding in Amerika te ondergaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *