Dreinering van Grond is Moeite Werd

Dit loon ’n boer om sy grond te dreineer. Daarvan kan hierdie boerdery getuig nadat hy die afgelope tyd groot oeste afgehaal het op gedreineerde lande in vergelyking met die boerdery se ongedreineerde grond, ondanks swaar reën wat baie boere se turf letterlik laat sit het.

Menige boer het hierdie winter met die hande in die hare gesit omdat hulle hul oeste weens swaar, laat reën nie kon insamel nie. Daarvoor was die landerye net té deurdrenk van die water. Dié toestande het baie swak oeste tot gevolg gehad. Die gradering was op menige plek laag, terwyl mielies ook omgeval het om in die water te verrot.

Mnr. Stephan Geldenhuys van Normandien naby Newcastle het egter nie gesukkel op die lande waarin hy ondergrondse dreineringspype aangebring het nie. Sy stropers kon die landerye aandurf om die mielies en sojabone te oes sonder vrees dat hulle sal vassit.

Die jong man, wat saam met sy broer Jaro boer, sê hulle het ook swaar reën in die herfs en vroeë winter gehad, maar hul lande wat reeds gedreineer was, kon geoes word. Hul oeste was boonop baie naby aan die gewone oeste wat hulle in goeie jare behaal en die graad was reg.

Hulle het die dreineringspype eers met behulp van ’n slootgrawer gelê. Dit is ’n omvangryke taak. Eers word die slote gegrawe. Dan word ’n laag riviersand in die slote gegooi, en die regte helling word met die hand bewerkstellig. Daarna word pype met die hand in die grond gesit en toegegooi.

Vir soveel werk en hoë arbeidskoste het hulle nie langer kans gesien nie. Hul pa, Manus, het ’n onderneming op Newcastle wat landbouwerktuie verkoop en hy het begin navraag doen oor werktuie wat die taak vinniger kan afhandel. Só het hy toe die nuutste beskikbare werktuig, ’n Soil-Max Gold Digger, in Amerika opgespoor en twee ingevoer. Dit het die lê van drei-neringspype aansienlik vergemaklik.

Geldenhuys het op ’n boeredag op hul plaas vertel die werktuig is duur. Dit kos sowat R350 000, maar die prys sluit nie ’n GPS-basisstasie en -ontvangstoestel in nie. ’n Boer kan sy bestaande GPS-toerusting gebruik as hy reeds een in die boerdery benut.

Die boer sal die koste egter betreklik gou kan verhaal. Stephan sê om dreinering op die ou manier (met slootgrawers en sand) te doen, kos van R300 tot R350 per meter aan kontrakteurskoste. Met die nuwe werktuig bedra die kontrakteurskoste egter slegs sowat R9,50 per meter. Die pyp kos ongeveer R15/m. As ’n boer dus reeds ’n groot trekker het en baie dreineringswerk moet doen, kan die werktuig met 37 000 meter se werk betaal word. Dit kan meer as 10 000 meter pype per dag lê (met slegs vier mense) en die werktuig kan homself dus in so min as vier dae betaal.

Stephan sê dit is nie maklik om te bereken hoeveel die oeste met dreinering sal ver-beter nie. Dit wissel na gelang van die seisoen en hoe groot die dreineringsprobleem is. Op een van sy spilpuntsirkels, waarop reeds sewe jaar gelede dreineringpype geïnstalleer is, het die pype daardie land van die swakste land op die plaas verander in die een met die beste gemiddelde oeste die afgelope sewe jaar. Die afgelope oestyd het sojabone op die ongedreineerde spilpuntlande ’n gemiddelde opbrengs van slegs 1,4 t/ha gelewer, teenoor gemiddeld 3,6 t/ha op die gedreineerde spilpuntgrond (wat voorheen die natste was).

Die koste per hektaar wissel baie na gelang van die grond se kleipersentasie, asook hoe groot die dreineringsprobleem is, aangesien dit bepaal hoe ver die pype uit mekaar moet wees. Rofweg bereken kan dit egter van R4 000 tot R15 000 per hektaar bedra.

As ’n gemiddelde prys vir sojabone van R3 300/t in aanmerking geneem word, is dit moontlik dat die stelsel soveel as R7 260/ha in een oestyd kan maak. Dit was egter ’n seisoen van uiterstes. Die stelsel op daardie land het sowat R6 000 per hektaar gekos (bereken teen die koste van ’n kon-trakteur). Die stelsel het dus die koste daaraan verbonde in een seisoen geregverdig.

Die Gold Digger-werktuig is groot en verg ’n trekker van minstens 150 kW. Traksie is egter die belangrikste en ’n trekker met ’n gewig van minstens 10 ton word aanbeveel. Hoe swaarder, hoe beter en rusperbande is selfs beter, sê Stephan.

Mnr. Travis Schwickerath is ’n jong Amerikaner wat in die staat Iowa boer en ook ’n verspreider van die werktuig is. Hy het vertel hoeveel hul boerdery by ondergrondse dreinering baat gevind het.

’n Boer kan tussen verskillende tipes dreineringstelsels kies, maar basies bestaan dit uit ’n klomp pype wat van die kante af by ’n dikker pyp aansluit, wat die oortollige water wegvoer wat uit die grond dreineer. Die doel is om die watertafel te verlaag sodat dit in geval van baie reën nie op die oppervlak bly staan en die gewasse laat versuip nie. Namate die watertafel styg, beweeg dit dan na die omgewing waar die dreineringpype lê en dreineer weg.

Dreinering is belangrik, veral in die lig van klimaatsverandering. Dit is omdat reënvalpatrone verander en swaar neerslae landerye dikwels in ’n meer verander. Daarom pas boere in die belangrikste voedselproduserende gebiede in Amerika tans op groot skaal dreinering toe.

Die goeie gevolge is dat dit die stres op die gewasse verminder en beter oeste in nat tye moontlik maak. Veral in gebiede waar boere net ’n beperkte tyd het om te plant en oes, is dit ’n goeie opsie. Weerstand teen droogte word ook verhoog.

Hy het gesê dreinering het ook ander voordele, soos dat dit die gewasse toelaat om hul wortels dieper in te stoot en sterker stamme te ontwikkel. Sodoende kan die gewasse danksy ’n groter wortelstelsel later beter weerstand teen droë toestande bied. Dit haal die wisselvalligheid uit die boerdery. Uiteraard verhoog dít alles die opbrengs.

Nog ’n voordeel is dat dit gronderosie verminder omdat minder oppervlakwater oor die grond vloei. Dit werk ook verdigting teen omdat nat grond makliker verdig as droër grond. Belugting is ook beter in gedreineerde grond.

 

Ondergrondse dreinering moet deeglik beplan word sodat dit later uitgebrei kan word deur nóg dwarspype tussen die bestaande pype aan te bring as die grond nie goed genoeg dreineer nie. Die pype moet ook so gelê word dat die gedreineerde water teen ’n afwaartse helling weggevoer word. “Onthou, water vloei altyd bult af,” het Schwickerath gesê. 

Die land se kontoere moet in ag geneem word. Die uitlaat waar die water by die hooflyn uitvloei, moet op die land se laagste punt wees om die beste vloei moontlik te maak.

Die kuns is om die pype met ’n egalige helling van hoog na laag te begrawe en dus die probleem van ongelyktes in die land te bowe te kom, anders sal die vloei van die gedreineerde water nie reg wees nie.

Gee eerste aandag aan dié dele van die plaas wat maklik versuip. Die res kan later aangepak word namate geld beskikbaar word. Kies die geskikste stelsel saam met ’n deskundige.

Die gaatjies in die gleuwe van die dreineringspype sal nie verstop nie, tensy die grond ’n baie lae kleipersentasie het. In baie sanderige grond kan ’n tipe kous oor die pype getrek word om die klein sanddeeltjies uit die gate te hou.

Die regte diepte onder die grond en spasiëring tussen pype is uiters noodsaaklik. Die diepte hang af van die worteldiepte van die gewasse wat op die land verbou word. ’n Tipiese diepte is 600 mm tot 1 200 mm, met ongeveer 30 m tussen die dwarspype. Die werktuig kan, waar nodig, die pype tot meer as 2 m diep begrawe.

Die dreineringspype het ’n lang leeftyd. Konserwatief bereken is dit minstens 25 jaar, maar dalk meer as ’n eeu, want plastiek breek nie in die grond af nie, volgens Schwickerath. Die gebruiklike pypdikte wissel van ongeveer 70 mm tot 250 mm.

 

Die Gold Digger-werktuig maak van satelliettegnologie gebruik. Nadat die dreineringstelsel ontwerp is, moet die boer met sy trekker (waarin ’n GPS-toestel aangebring is) die roete waar die pype begrawe moet word, ry (opmeet) sodat die GPS die roete en topografie in sy geheue kan vaslê. Dit het ook ’n hellingsensor wat die hellings meet. Geldenhuys gebruik ’n Intellislope GPS Grade Control-stelsel, wat ook deur die vervaardiger van die Gold Digger ontwerp is.

Daarna kan die boer begin om die pype te lê. Die GPS doen dan die meeste werk. Die werk begin in ’n gat wat eers gegrawe moet word. Die werktuig word daarin laat sak tot op die verlangde diepte. Die proses geskied dan outomaties en die trekkerbestuurder beheer bloot die trekker se snelheid. Die GPS en hellingsensor lê die pyp heeltyd op die regte diepte en teen die regte helling, al het die land ook ’n golwende profiel.

Die pyplêwerktuig lig die grond op, lê die pyp – ’n tweede trekker met die rol pype op ’n tol ry langsaan – en die grond sak weer terug om die pyp te bedek. Omdat dit die grond na bo lig, is daar nie veel drukking op die pyp in die grond nie en word dit nie toegedruk nie.

Wanneer die netwerk pype klaar aangebring is, het die boer ’n kaart van presies waar elke pyp in die grond is en hoe diep dit lê, vir ingeval hy later nog pype wil aanbring. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *